Die 11de Klein Karoo Klassique-program word gekenmerk deur bekroonde uitvoerings en kunstenaars wat by dié fees van klassieke musiek, kuns, kos en wyn te sien is. Klassique word van Donderdag, 8 tot Sondag, 11 Augustus op Oudtshoorn aangebied.

“Ons sien uit om die winterkoue op Oudtshoorn met uitmuntende klassieke musiek te verdryf,” sê Hugo Theart, artistieke direkteur van Klein Karoo Klassique. Hy verduidelik dat die program vir die eerste keer sedert 2015 ’n Klein Karoo Klassique Galakonsert insluit. “Dié Galakonsert is een van nege uitvoerings wat, danksy die volgehoue ondersteuning van die Rupert-Musiekstigting, aangebied word. Die samestelling van ons gewilde Klassique-pakket maak dit vir feesgangers moontlik om elke noot te hoor en boonop meer as 20% te spaar,” vertel hy.

“Die program is sorgvuldig saamgestel om ’n verskeidenheid instrumente en werke in te sluit, met iets vir ieder en elk se smaak. Klassique se tuiste bly die NG Moederkerk-kompleks, waar meeste van die uitvoerings en aktiwiteite plaasvind. Vir Saterdagaand se Galakonsert, verskuif ons na die Bugersentrum en ons sluit die fees Sondag weer by die NG Moederkerk af”.

Klassique begin op 8 Augustus om 18:30 met La Femme! – A Celebration of Music and Dance. Tanya Diamond (dans & choreografie) en Nina Fourie-Gouws (kitaar) kombineer outentieke, kontemporêre Flamenco-dans met die klanke van klassieke kitaar. Werke van Albéniz, Brouwer, Barrios, Domeniconi, Ibert, Tárrega en Vivaldi word gehoor, met lede van die SoloFLAMENCO dansstudio wat tradisionele Spaanse begeleiding bied. Die produksie word as deel van dié Vrouedag-naweek aangebied.

Liesl Stoltz (fluit), David Pinoit (tjello) en François du Toit (klavier) kombineer in Trio du Cap Classique (9 Augustus 10:30) werke vir fluit, tjello en klavier, waaronder Felix Mendelssohn se Trio in D-mineur, asook ’n beeldskone verwerking van Arnold Schoenberg se Verklärte Nacht (Verheerlikte Nag). Hul eindig met Herfs deur Argentynse tango-komponis, Astor Piazzolla – deel van sy Vier Seisoene.

Plaaslike pianis Sulayman Human, keer op 9 Augustus om 14:30 terug na sy tuisdorp vir When Poets Speak, ’n uitvoering geïnspireer deur van die donkerste, asook van die dapperste poësie – waaronder Gaspard de la Nuit deur Aloysius Bertrand en Divine Comedy deur Dante Alighieri. Hierdie uitvoering word moontlik gemaak deur LeLude MCC. 

SAMRO Oorsese-beurswenner Dylan Tabisher, besin in Marimba Melodies (9 Augustus 18:00) oor sy reis as marimba-speler. Hy begin met Keiko Abe se Michi (wat pad of weg in Japannees beteken), gevolg deur werke van Tabisher se gunsteling-komponiste, waaronder J.S. Bach, Evelyn Glennie, Nebojsa Zivkovic en Astor Piazzolla.

Dylan Tabisher

Violin Dialogue (10 Augustus 10:30) met Zanta Hofmeyr (viool), Miro Chakaryan (viool) en Olive Sandilands (klavier) is in 2018 met die Fiësta vir beste prestasie in klassieke musiek én beste klassieke musiekproduksie by Aardklop bekroon. ’n Opwindende program van virtuose vioolduo’s word gehoor, met werke van Wieniawski, Sarasate, Leclair, Shostakovich en Moszkowski.

Erik Dippenaar (orrel) speel in Transkribarok (10 Augustus 14:30) transkripsies van gewilde orkeswerke uit die Barok-periode. Sy program sluit Handel se Musiek vir die Koninklike Vuurwerke, Watermusiek en Die Aankoms van die Koningin van Skeba, asook ’n concerto grosso deur Corelli in.

’n Besonderse Klein Karoo Klassique Galakonsert (10 Augustus 19:00) word ter viering van Vrouedag aangebied, met duo’s en trio’s uit operettes, musiekblyspele en opera – vertolk deur Kaapse-sopraan Minette du Toit-Pearce, TV-persoonlikheid en Kunste Onbeperk Jong Stem-vereerde, Lynelle Kenned en Janel Speelman. Verwag ’n onvergeetlike samekoms van stemme met o.a. vertolkings van Barcarolle uit The Tales of Hoffmann, The Flower Duet uit Lakmé, Andrew Lloyd Webber se Pie Jesu en die komiese Cats’ Duet deur Rossini. Die jong pianis, Qden Blauw lei die program in.

Kaapstad se Amici Strykkwartet, een van Suid-Afrika se voorste kamermusiek-ensembles, neem op 11 Augustus om 11:00 gehore op reis deur werke van die voorste strykkwartet-komponiste in die geskiedenis, in Sublime String Quartets from Bohemia. Suzanne Martens (eerste viool), David Bester (tweede viool), Karin Gaertner (altviool) en Peter Martens (tjello) voer onder andere die eerste beweging van Schubert se Rosamunde Kwartet, asook Dvořák, se Amerikaanse Kwartet uit.

Amici Strykkwartet

Klassique 2019 eindig met ATKV-virtuose in konsert (11 Augustus 14:30) met Bongani Kubheka (bariton), Cameron Williams (saksofoon) en Megan-Geoffrey Prins (klavier). Dit is ’n kragtoer van klanke in harmonie met twee jong virtuose; Williams, wenner van ATKV-Muziq 2018 en Kubheka, wenner van ATKV-Muziqanto 2018. Hulle neem die gehoor op ’n musikale reis, begelei deur pianis, Megan-Geoffrey Prins, wenner van ATKV-Muziq 2016.

Theart noem verder dat feesgangers kan uitsien na bykomende konserte, kunsuitstallings, proe-ervarings en smulkos by die plaaslike restaurante. “Hou gerus die webblad dop vir die jongste nuus en bespreek verblyf vroegtydig”, sluit hy af.

In aanvulling tot die top-gehalte musiek, het feesgangers ’n eenmalige geleentheid om die 2018 Platter Wyn van die Jaar, Nederburg se Two Centuries Cabernet Sauvignon 2014, asook vyf ander kultivars in dié reeks tydens Klassique te proe. ’n 1985 Nederburg Cabernet Sauvignon rond die ervaring af. Dié eksklusiewe Nederburg Two Centuries Wine Tasting word op 10 Augustus om 16:00 aangebied en daar is ’n beperkte aantal sitplekke beskikbaar.


Die volledige feesprogram is eersdaags beskikbaar by www.klassique.co.za en kaartjies kan binnekort by enige Computicket, Shoprite/Checkers, House & Home, of aanlyn by www.computicket.com gekoop word. Vir meer inligting, kontak Kunste Onbeperk se kantoor by 044 203 8600, of info@kunste.org.za.