Gehore by die 11de Klein Karoo Klassique op Oudtshoorn kan uitsien na musiek op ’n keur van snaarinstrumente, bespeel deur verskeie bekroonde kunstenaars. 

“Die intensiteit en nuanse van hierdie snare, wat strek van viool en tjello tot kontrabas en klassieke kitaar, beloof om gehore by die Klein Karoo Klassique van Donderdag, 8 tot Sondag, 11 Augustus te bekoor,” vertel Hugo Theart, artistieke direkteur van die fees.

Klein Karoo Klassique Oudtshoorn

In Sublime String Quartets from Behemia neem die Amici Strykkwartet, een van Suid-Afrika se voorste kamermusiek-ensembles, die gehoor op reis deur werke van die voorste strykkwartet-komponiste in die geskiedenis. Komponiste uit Wene, waaronder Mozart, Haydn, Beethoven en Schubert word op die program verteenwoordig deur die eerste beweging van Schubert se Rosamunde Kwartet. In die begaafdeTsjeggiese kwartet-komponis, Dvořák, se Amerikaanse Kwartet, sy mees-bekende strykkwartet, word elemente van volksmusiek vanuit sy geboorteland met dié uit sy nuwe wêreld, die Verenigde State van Amerika, gekombineer. Sien Suzanne Martens (eerste viool), David Bester (tweede viool), Karin Gaertner (altviool) en Peter Martens (tjello) op Sondag, 11 Augustus om 11:00 in die NG Moederkerk vir hierdie uitvoering.

Klein Karoo Klassique Oudtshoorn

Violin Dialogue is in 2018 met die kykNET Fiësta vir beste prestasie in klassieke musiek én beste klassieke musiekproduksie by Aardklop bekroon. Die befaamde Suid-Afrikaanse en Bulgaarse violiste Zanta Hofmeyr en Miro Chakaryan voer ’n opwindende program van virtuose vioolduo’s uit. Hulle deel hul liefde vir die instrument in ’n musikale dialoog met werke van Wieniawski, Sarasate, Leclair, Shostakovich en Moszkowski. Chakaryan is die konsertmeester van die Johannesburgse Filharmoniese Orkes en Hofmeyr is bekend as konsertviolis en viooldosent. Hulle word in die uitvoering op Saterdag, 10 Augustus om 10:30 deur pianis, Olive Sandilands begelei.

Klein Karoo Klassique Oudtshoorn

In Trio du Cap Classique op Vrydag, 9 Augustus om 10:30, kombineer David Pinoit (tjello), Liesl Stoltz (fluit) en François du Toit (klavier) werke vir tjello, fluit en klavier, waaronder Felix Mendelssohn se Trio in D-mineur, moontlik sy mees-bekende kamermusiek-komposisie, asook C.M. von Weber se Trio in G-mineur Opus 63. Die program eindig met Herfs deur Argentynse tango-komponis, Astor Piazzolla. Hierdie beweging vorm deel van sy Vier Seisoene. Stoltz en Du Toit, albei bekende Suid-Afrikaanse kunstenaars, het in 2018 hierdie trio saam met die Franse musikant, Pinoit gestig. Hulle is elkeen internasionaal-erkende musici en het regoor Suid-Afrika, Europa, Asië en die VSA studeer en opgetree. 

Klein Karoo Klassique Oudtshoorn

LA FEMME! – A Celebration of Music and Dance is ’n visueel- en ouditief- betowerende produksie. Dit kombineer op Donderdag, 8 Augustus om 18:30 die passie, geesdrif en intensiteit van outentieke, kontemporêre Flamenco-dans met die warm, komplekse, sensuele klanke van klassieke kitaar. Internasionaal-bekroonde danser en choreograaf, Tanya Diamond, en konsert-kitaarspeler en lektor aan die Stellenbosch Konservatorium, Nina Fourie-Gouws, span artistieke kragte saam, met werke van Albéniz, Brouwer, Barrios, Domeniconi, Ibert, Tárrega en Vivaldi. Lede van die SoloFLAMENCO dansstudio bied tradisionele Spaanse begeleiding, met onder andere kastanjette, klapkassies en palmas.

’n Spesiale kaartjiepakket, moontlik gemaak deur die ondersteuning van die Rupert-Musiekstigting, stel feesgangers in staat om elke noot by Klassique te hoor en boonop R240 te spaar. “Feesgangers moet gou speel vir hul pakkette, aangesien dié aanbod uiters gewild is en vinnig uitverkoop,” sê Theart. 

Volgens Theart word daar vanjaar ook ’n eksklusiewe wynproe tydens Klein Karoo Klassique aangebied, moontlik gemaak deur Rosenhof Country House. “Dié Nederburg Two Centuries Wine Tasting is ’n eenmalige geleentheid om die 2018 Platter Wyn van die Jaar, Nederburg se Two Centuries Cabernet Sauvignon 2014, asook vyf ander kultivars in dié reeks by Klassique te proe. ’n 1985 Nederburg Cabernet Sauvignon rond die ervaring af,” sê hy. Daar is ’n beperkte aantal sitplekke vir hierdie wynproe, wat op 10 Augustus om 16:00 by die Windpomp Restaurant aangebied word. 

Die volledige feesprogram is beskikbaar by www.klassique.co.za en kaartjies kan by Computicket, Shoprite/Checkers, House & Home, of aanlyn by www.computicket.com gekoop word. Vir meer inligting, kontak Kunste Onbeperk se kantoor by 044 203 8600, of info@kunste.org.za