Klein Karoo Klassique, Oudtshoorn se fees van klassieke musiek, kuns, kos en wyn begin oor net meer as ’n week op dié Klein Karoo-dorp. “Ons vier van Donderdag, 8 tot Sondag, 11 Augustus Klassique se 11de verjaarsdag en die program beloof hoogtepunte vir elke klassieke smaak”, sê Hugo Theart, artistieke direkteur van die fees. 

Volgens Theart word die ryk kultuurerfenis van Suid-Afrika ook by die fees gevier. “As deel van ons program bied ons vir die eerste keer ’n ATKV-Erfeniskonsert, Vir die liefde van … aan. Tydens hierdie konsert word Suid-Afrikaanse kultuur deur ’n verskeidenheid kunsvorme, waaronder rieldans, koormusiek en solo-optredes verteenwoordig”, vertel hy. “Dis ’n viering van talent en kultuur en word saamgestel uit die verskeidenheid talent wat deur die ATKV ontdek en ontgin word.”

Feesgangers kan uitsien na optredes deur HemelBesem, Calitzdorp se Kallieklip Stoftrappers, Hakkiesdraad, die Outeniqua Jeugkoor en ander plaaslike Oudtshoorn kunstenaars. Volgens Morné van Staden, projekorganiseerder van die ATKV se Erfenisprojekte, is Vir die liefde van … ’n vertoonkas wat die diversiteit van Suid-Afrikaanse kultuur in musiek, sang en dans verteenwoordig, met kunstenaars uit verskeie ATKV-projekte soos Rieldans, Crescendo en die ATKV-Rapport-korekompetisie.

Simon Witbooi, oftewel HemelBesem, nooi feesgangers uit om die konsert by te woon. “Kom kyk, luister en ervaar die vreugde in verskil. Vir die liefde van … is mooi in musiek, roer ons riel en rym by koor en aller’ klank”, sê hy.

Vir die liefde van … word op Saterdag, 10 Augustus om 17:00 in die Toekomsrus Gemeenskapsaal aangebied. Daar is slegs ’n beperkte aantal kaartjies beskikbaar. “Alhoewel kaartjies vir hierdie konsert slegs R20 kos, moedig ons feesgangers aan om meer te betaal as ’n skenking en bydrae tot die Klein Karoo Kunste-akademie, ’n Kunste Onbeperk-inisiatief in samewerking met die Oudtshoorn Munisipaliteit. Alle fondse wat met hierdie konsert ingesamel word, word aangewend vir fondse van dié akademie se aktiwiteite”, sluit Theart af. Theart sê verder dat feesgangers wat die spesiale Klassique Pakket gekoop het, outomaties toegang tot Vir die liefde van … ontvang. 

Die volledige feesprogram is beskikbaar by www.klassique.co.za en kaartjies kan by Computicket, Shoprite/Checkers, House & Home, of aanlyn by www.computicket.com gekoop word. Vir meer inligting, kontak Kunste Onbeperk se kantoor by 044 203 8600, of info@kunste.org.za