Die 11de Klein Karoo Klassique is om die draai en feesgangers by dié Oudtshoorn-fees kan uitsien na ’n kragtoer van stemme van Donderdag, 8 tot Sondag, 11 Augustus. 

“Ons bied vanjaar vir die eerste keer sedert 2015 ’n Galakonsert by Klein Karoo Klassique aan en hoe beter om dit te vier as met ’n fees oor Vrouedag”, sê Hugo Theart, artistieke direkteur van die fees. “Die Galakonsert is ’n besonderse viering met duo’s en trio’s uit operettes, musiekblyspele en opera, vertolk deur mezzo-sopraan Minette du Toit-Pearce en soprane Lynelle Kenned en Janel Speelman. Pianis Philippus Hugo, marimba-speler Dylan Tabisher en violis Valentina Vorster sluit by hulle aan, met Qden Blauw – die jongste solo-kunstenaar om by Klassique op te tree – wat die program op klavier inlei”, brei Theart uit. 

Klassique-feesgangers hoor vanjaar vir die eerste keer Speelman se uitsonderlike stem in die Klein Karoo. Sy het tot onlangs in die VSA gewoon en opgetree. Vir haar is die hoogtepunt van die Galakonsert om die dag na Vrouedag op die verhoog te wees. “Dit stel my en my mede-kunstenaars in staat om deel te neem aan ‘n uitvoering wat die rol van vroue in die samelewing vereer. Dit is vir my ’n hoogtepunt om my stem te gebruik as ‘n erkenning van die onwrikbare resolusie van vroue regoor die wêreld”, meen Speelman. 

Speelman sê verder dat sy geweldig daarna uitsien om Klassique se gehore te ontmoet. “Ons deel ’n wedersydse liefde vir musiek en dit maak my opgewonde. Klassique bring jaarliks kunstenaars bymekaar om samewerking, groei en ’n hernude trots in ons unieke Afrika-perspektief aan te moedig. Dit is vir my ’n groot voorreg om by dié fees op te tree”, sluit sy af.

Kenned is vanjaar met die Kunste Onbeperk-prys vir ’n Jong Stem vereer en is vir die tweede keer by Klassique te sien. Verlede jaar se optrede saam met André Schwartz was vir haar ’n loopbaan-hoogtepunt. Kenned sê dat sy met die Galakonsert daarna uitsien om saam met ander kunstenaars musiek te kan maak, sommige vir die eerste keer. “Die program van die Galakonsert bied werklik iets vir almal, uitgevoer deur verruklike musici. Ek is baie bevoorreg om myself in hierdie geselskap te bevind”, sê sy. 

Du Toit-Pearce tree vanjaar vir die vierde keer by Klassique op. Die atmosfeer op Oudtshoorn lok haar keer-op-keer terug na die fees. “Ten spyte van die feit dat daar ’n fees aan die gang is, is alles rustig en gesofistikeerd. Die platform wat Klassique aan kunstenaars bied is gerespekteer en dit bly ’n eer om daar te kan optree. Om verder deel te wees van só ’n lekker uitvoering is natuurlik ’n bonus. Die gehore by Klein Karoo Klassique is altyd besonders, as kunstenaar ervaar jy dat hulle werklik daar is om klassieke musiek te ondersteun”, vertel sy. As sy terugdink aan haar vorige uitvoerings by Klassique, staan Oudtshoorn se vriesende koue vir haar uit. “ ’n Groot deel van my beplanning voor die uitvoering gaan oor wat ek kan aantrek op die verhoog waarin ek gemaklik kan sing, maar ook warm sal wees”, skerts sy. 

Verwag op Saterdag, 10 Augustus om 19:00 ’n onvergeetlike samekoms van stemme met die Klein Karoo Klassique Galakonsert in die Burgersentrum met o.a. vertolkings van Barcarolle uit The Tales of Hoffmann, The Flower Duet uit Lakmé, Andrew Lloyd Webber se Pie Jesu en die komiese Cats’ Duet deur Rossini. Kaartjies kos R150 vooraf en R160 by die deur. 

Op Sondag, 11 Augustus om 14:30 sluit Klein Karoo Klassique af met ATKV-Virtuose in konsert. Bongani Kubheka (bariton), Cameron Williams (saksofoon) en Megan-Geoffrey Prins (klavier) is in dié kragtoer van klanke in harmonie te sien. “Bongani is verlede week as een van die finaliste in Plácido Domingo se Operalia, The World Opera Competition in Praag aangewys en dit is vir ons ’n groot voorreg om hom by Klassique te verwelkom”, sê Theart. Kubheka was in 2018 die wenner van ATKV-Muziqanto

Hy neem die gehoor op ’n musikale reis saam met twee ander jong virtuose. Williams, wenner van ATKV-Muziq 2018 en pianis Prins, wenner van ATKV-Muziq 2016, sluit by hom aan. Prins se vingerdanspassies op wit-en-swart klawers het hom al verskeie toekennings besorg, beide in Suid-Afrika en in die buiteland. 

Volgens Theart word daar vanjaar ook ’n eksklusiewe wynproe tydens Klein Karoo Klassique aangebied, moontlik gemaak deur Rosenhof Country House. “Dié Nederburg Two Centuries Wine Tasting is ’n eenmalige geleentheid om die 2018 Platter Wyn van die Jaar, Nederburg se Two Centuries Cabernet Sauvignon 2014, asook vyf ander kultivars in dié reeks by Klassique te proe. ’n 1985 Nederburg Cabernet Sauvignon rond die ervaring af,” sê hy. Daar is ’n beperkte aantal sitplekke vir hierdie wynproe, wat op 10 Augustus om 16:00 by die Windpomp Restaurant aangebied word. 

vKlein Karoo Klassique Oudtshoorn

Die volledige feesprogram is beskikbaar by www.klassique.co.za en kaartjies kan by Computicket, Shoprite/Checkers, House & Home, of aanlyn by www.computicket.com gekoop word. Vir meer inligting, kontak Kunste Onbeperk se kantoor by 044 203 8600, of info@kunste.org.za