Negende Klein Karoo Klassique grootste nog

Restaurant teaterervaring ‘n eerste vir Klassique
September 20, 2017

Gehore toon waardering vir groter, gevarieerde musiekprogram.
“Die negende Klein Karoo Klassique, wat Sondag, 13 Augustus op Oudtshoorn geëindig het, is deur die grootste gehore in dié fees se geskiedenis bygewoon,” sê Rhodé Snyman, uitvoerende hoof van Kunste Onbeperk, aanbieder van Klein Karoo Klassique.
“Klassique se toenemende groei, te midde van die huidige ekonomiese klimaat, dui daarop dat die fees se lojale gehoor waardering vir vanjaar se toeganklike musiek, groter variasie op die program en bekostigbare kaartjiepryse gehad het,” sê Snyman.
“Klassique het dit opnuut reggekry om kunsmusiek toeganklik te maak, gekenmerk deur verskeidenheid – van kitaar tot outentieke barokinstrumente en van soprane tot ’n verkorte opera. Die fees is op een perseel aangebied (die NG
Moederkerk-kompleks), wat dit vir feesgangers moontlik gemaak het om tussen uitvoerings heerlike te kuier en te ontspan,” sê sy.
“Ons het groot waardering vir die finansiële bydrae van ons hoofborge, die Rupert Musiekstigting en die Shanti Nilaya Trust, wat ons in staat gestel het om kaartjiepryse dieselfde as verlede jaar te hou. Ons is ook dankbaar vir die ondersteuning van die ATKV, die Oudtshoorn Courant, RSG, Die Burger, Hyundai Oudtshoorn en Klein Karoo International, sonder wie dié sukses nie moontlik sou wees nie. Die uitgebreide musiekprogram is aangevul deur ’n eerste restaurant teaterervaring en ons gaan beslis op hierdie gewilde konsep voortbou volgende jaar,” vertel sy.
Snyman vra dat feesgangers terugvoer oor Klassique na info@kunste.org.za moet stuur en ook nou reeds volgende jaar se datums moet aanteken. “Klein Karoo Klassique vier in 2018 ’n dekade van klassieke musiek op Oudtshoorn. Vir dié spesiale geleentheid is die fees een dag langer, van Donderdag, 9 tot Sondag, 12 Augustus 2018,” sluit sy af.