Restaurant teaterervaring ‘n eerste vir Klassique

Ninth Klein Karoo Klassique opens on a hight note
September 20, 2017
Negende Klein Karoo Klassique grootste nog
September 20, 2017

Geniet smulkos en klassieke musiek in Die Windpomp Restaurant Teater

 

Klassieke musiekliefhebbers kan vanjaar vir die eerste keer ’n restaurant teaterervaring by Klein Karoo Klassique op Oudtshoorn beleef. Dié winterfees van klassieke musiek, kuns, kos en wyn, word van Vrydag, 11 tot Sondag, 13 Augustus vir die negende keer aangebied.

 

By Die Windpomp Restaurant Teater, geleë in die CJV-saal agter die NG Moederkerk, kan feesgangers twee musiekuitvoerings en smulkos, berei deur die span van Signature Divine ervaar.

 

“Vrydagaand kan feesgangers uitsien na An Evening of Jazz met van die finaliste uit hierdie jaar se Artscape Youth Jazz-mentorskapprogram. Op die program is beide Suid-Afrikaanse en klassieke jazz,” sê Rhodé Snyman, uitvoerende hoof van Kunste Onbeperk, die maatskappy wat Klein Karoo Klassique aanbied. Topmusici wat as mentors vir dié jong kunstenaars opgetree het, sluit in Amanda Tiffin, Camillo Lombard, Shaun Johannes, Frank Paco en Marc de Kock.

 

Plaaslike pianis Sulayman Human, keer Saterdagaand terug na sy tuisdorp vir ’n Aand met Sulayman Human. “Hierdie optrede is ’n moet vir liefhebbers van klaviermusiek. Sulayman speel Mozart se Sonate in C majeur, KV330, Chopin se Berceuse in D-mol majeur Op.57, asook musiek van Schubert, Rachmaninoff en Kapustin,” vertel Snyman.

 

Volgens Snyman word aandetes in Die Windpomp Restaurant Teater vanaf 19:00 bedien en feesgangers kan smulgeregte, met bestanddele uit die Klein Karoo en omgewing verwag. Die musiekoptredes begin om 21:00 en kaartjies hiervoor sluit nie aandete in nie. “Kom geniet ’n restaurant teateraand met heerlike kos en ongelooflike musiek saam met ons,” sluit Snyman af. Kaartjies vir optredes in Die Windpomp Restaurant Teater is beskikbaar by Kunste Onbeperk se kantoor of 044 203 8600. Etes word by die restaurant bespreek en betaal.

 

Saterdag en Sondag kan daar tussen 11:00 en 18:00 wyn en deli-produkte in die area buite die CJV-saal geproe word. Ligte etes word ook deur die dag by die restaurant bedien en dit is nie nodig om ’n uitvoering by te woon, om die proeë en etes te geniet nie. Koffie deur Oudtshoorn se eerste koffiebrander, Beans about Coffee, help ook om die winterkoue te verdryf.

 

Die agt musiekuitvoerings op Klein Karoo Klassique se musiekprogram, sluit in CH2 in konsert met Corneille Hutten en Dirkie van Staden (kitaar), Vivaldi se Vier Seisoene herbesoek met Petrus de Beer (viool), Stanislav Angelov (trekklavier) en Schalk Joubert (baskitaar en voordrag); Folk Baroque met die Camerata Tinta Barocca; Alleenstryd: Hendrik Hofmeyr Huldigingskonsert met Minette du Toit-Pearce (mezzo-sopraan), Lauren Dasappa (sopraan), Jolene McCleland (mezzo-sopraan), José Dias (klavier) en ’n gasoptrede deur Hendrik Hofmeyr; Carmen – in die kleine met Jolenne McCleland as Carmen (mezzo-sopraan), Lauren Dasappa as Michaëla / Frascuita (sopraan), Linette van der Merwe as Mercédès (mezzo-sopraan), Chris Mostert as Don José / Le Remendado (tenoor), Niël Rademan as Escamillo (bariton) en Raimondo van Staden as Le Dancaïre (bariton); Spieël-dans in die maanlig met Jana van der Walt (harp) en Rina Schutte (tjello); Beethoven Tango met Zanta Hofmeyr (viool) en Charl du Plessis (klavier) en die ATKV Afsluitingskonsert met Megan-Geoffrey Prins (klavier), Tatiana Thaele (fluit), Palesa Malieloa (sopraan) en Philippus Hugo (klavier).